Amper tyd vir die jaarlikse Trekkerfees

0
411
Een van die pienk trekkers wat so gewild is onder die mense

Die Trekkerfees, wat deur die Sentraal-Vrystaat-veteraneklub gereël word, vind vanjaar vir die sesde keer plaas en beloof om een te wees om te onthou.
Die idee vir die fees het begin toe klublede besluit het om ‘n realistiese demonstrasie aan die jeug te bied van hoe hul oupas geboer het. Ook natuurlik om ‘n bietjie te spog met gerestoureerde enjins en trekkers. Die feesdag gaan voortaan eenkeer per jaar plaasvind.
Daar is besluit dat elke fees iets anders moet bied. Die Ferreira-museum gaan ou plaasgereedskap en toerusting uitstal en in die plaasatmosfeer, waarin speels ‘n bietjie geboer kan word, soos om te ploeg met ou sleepploeë, mielies te dors, gras te baal en meel te maal, ‘n ander wêreld vir besoekers oop te maak. Daar sal ook ‘n demonstrasie wees van hoe ‘n roomafskeier werk.
Heelwat aktiwiteite waaraan die hele familie kan deelneem word beplan, soos boeresport en kabouterbraai vir die laerskoolkinders, wat alles gratis is. Die unieke fees wil die tradisie van boerdery uit die verlede laat voortleef. Grofsmede gaan demonstreer hoe om yster te smee en mesmakers sal die fynere kuns van dié vaardigheid om ‘n mes uit ruwe yster te maak, demonstreer.

Daar gaan verskeie uistallings op die fees wees.

Die bylgooi-kompetisie is deel van die vermaak, plaaslike laerskole se trompoppies sal hul passies vir feesgangers uitvoer en ‘musical chairs’ met trekkers gaan gespeel word. ‘n Verskeidenheid stalletjies sal iets vir oud en jonk bied en mense kan ook deur die museum loop.
Die oudste trekkers gaan ten toon gestel word, terwyl die pienk trekkers iets heel anders op die program is. Besoekers sal die 1947-John Deere-trekker wat deur Darius Venter pienk en swart geverf is om die meisies se aandag te trek, Rudie Herbst se 1965-Landini R5000 wat hy spesiaal vir sy vrou, Salome, pienk en wit geverf het nadat sy gesê het sy sal trekker ry as hy pienk is, kan besigtig.
Die fees word op 21 Oktober by die Ferreira-museum te Speserylaan 16, Kwaggafontein, gehou. Hekke open om 09:00.
Vir meer inligting, bel gerus vir Rudie Herbst by 082-815-1727

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za