Alida se veelsydigheid spreek boekdele

0
131
Die 14-jarige Alida van der Merwe van Eunice het onlangs op die wêreld-tetrathlon-kampioenskap, wat in Praag (Tjeggiese Republiek) beslis is, 14de geëindig in haar uitdunronde waaraan 30 atlete van oor die wêreld deelgeneem het. FOTO: STELLA HEYNS

Die 14-jarige Alida van der Merwe van Eunice het gedurende die 2017-seisoen haar veelsydigheid en goeie toekoms wat op die horison in moderne vyfkamp wink met heelparty goeie vertonings onderstreep.

Van der Merwe het vanjaar op die Suid-Afrikaanse (SA) tetrathlon-kampioenskap die goue medalje in die afdeling vir meisies onder 19 haar eie gemaak, en sy kan die volgende vyf jaar steeds in dié ouderdomsgroep meeding. Sy het die silwermedaljewenner met meer as 100 punte geklop.

Die sport, tetrathlon, bestaan uit swem, skerm, hardloop en laserpistoolskiet. Laasgenoemde twee dissiplines word egter as ‘n kombinasie gelyktydig gedoen en staan bekend as laser-run. Tetrathlon is ‘n ontwikkelingsportsoort onder die vaandel van moderne vyfkamp, wat op sy beurt ‘n Olimpiese Spele-sportsoort is. Dié sport bestaan uit swem, skerm, hardloop, laserpistoolskiet, hardloop en ruiterkuns. Dit mag egter slegs deur atlete in die onder 18-ouderdomdgroep en ouer gedoen word.

Terug by Van der Merwe – sy is ná die genoemde SA kampioenskap gekies om die groen-en-goud te dra op die wêreld-tetrathlonkampioenskap wat in Julie in Praag (Tjeggiese Republiek) beslis is. Hier het sy 14de geëindig in haar uitdunronde waar 30 atlete van oor die wêreld deelgeneem het. Sy het net-net die top-12-vereiste misgeloop om te kwalifiseer vir die eindronde.

Kyk jy na Van der Merwe se tye wat sy in die swem en laser-run aangeteken het, het sy onderskeidelik die 25ste en 16de beste tye uit 86 deelnemers in dié kompetisie behaal.
Van der Merwe het saam met haar spanmaat in die gemende aflosafdeling self gewys wat in haar steek deur die algehele 18de plek te behaal.

Indien sy by die Olimpiese Jeugspele se kontinentale kwalifiseringstoernooi wat eersdaags in Nigerië beslis word, kan voortbou met haar opwaarste kurwe, sal Van der Merwe heelwaarskynlik gekies word om die deel te neem aan die derde Olimpiese Spele vir jeugatlete wat aanstaande jaar in Buenos Aires (Argentinië) plaasvind. – RUFUS BOTHA