Akademia nou ook in Bloemfontein

0
1357
Akademia nou ook in Bloemfontein

Met nuwe studiesentrums in die Paarl, Bloemfontein en George is Akademia se hoëronderwys in 2017 nou so goed as landswyd beskikbaar. Dié uitbreidings kom naas bestaande sentrums naby Kaapstad en toevoegings in Gauteng.

Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, sê Akademia is trots om nou binne bereik van die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes te wees: “Vir die eerste keer sal Akademia, met ‘n totaal van elf studiesentrums, nou binne ‘n radius van slegs tientalle kilometers van meeste Afrikaanssprekendes wees.”

Die totale aantal sentrums vir 2017 staan sover op elf: ses in die omstreke van Gauteng (waarvan een nuwe sentrum oorkant die Hoërskool Menlopark in Lynnwood, Pretoria); twee naby Kaapstad; en dan een elk in die Paarl (Boland), Bloemfontein (Vrystaat) en George (Suid-Kaap).

“Ons is veral bly om onsself in die Paarl te kan tuismaak in die fasiliteite van die Historium Trust, aangrensend aan die Afrikaanse Taalmuseum. Akademia beskou kulturele verbintenisse as belangrik vir ‘n diepgaande opvoeding en opleiding. Ons studente moet die beste uit die wêreld na Afrikaans bring, maar ook die beste uit Afrikaans na die wêreld neem,” het Le Roux gesê.

Studente by Akademia studeer deur middel van kontaksessies in hoëtegnologie-sentrums. Lesings word regstreeks aangebied; en danksy optieseveselnetwerke sien, hoor en kommunikeer studente en dosente in tot ses studiesentrums tegelyk met mekaar.

Le Roux sê Akademia beoog om selfs verdere sentrums toe te voeg: “Vir 2017 is ons nou byna landswyd gevestig, maar nog nie heeltemal nie. Ons gaan intussen voort met ondersoeke na uitbreidings in ander streke, waar Afrikaanssprekendes meer verspreid woon.”

Akademia Bloemfontein is in Groenewoudstraat 48, Universitas gelee.

Vir meer inligting oor Akademia, besoek gerus www.akademia.ac.za.