AHI kry nuwe baadjie

0
399
President van die kamer, Benno Jacobs.

Die plaaslike sakekamer, wat tot onlangs nog die Afrikaanse Handelsinstituut geheet het, sal voortaan bekendstaan as die Bloemfontein Business Chamber (bbc).
Volgens die president van die kamer, Benno Jacobs, is die naamsverandering reeds vroeër vanjaar tydens die kamer se algemene jaarvergadering ter tafel gelê en aanvaar.
Hy sê die naamsveradering spruit uit ‘n meer inklusiewe benadering, wat besigheid as hoofdoel het. “Die kamer is hier vir sakepersone om raad en leiding aan mekaar te bied. Ons wil nie dat ‘n taalskeiding hierdie proses belemmer nie. Ons sal so ver moontlik poog om lede in ‘n taal waarmee hulle gemaklik is, by te staan.”
Jacobs sê die kamer is egter steeds by die nasionale Afrikaanse Handelsinstituut geaffilieer.
Hy verduidelik die simbole ‘bbc’ verwys na die naam en dien ‘n dubbele doel, enersyds as afkorting, maar ook as visuele identiteit. “Die kleinletters (bbc) is gekies as ‘n verwysing na spontane eenvoud en outentieke verhoudinge, onderskeiding en maklike lees- en herkenbaarheid.”
Jacobs sê die stilistiese ineenskakeling van die letters simboliseer die netwerk, samewerking en eenheid van die sakekamer. Verder dui die ronde letters op ruimheid met ‘n progressiewe ontwikkeling tot die ‘c’ wat oopbreek – besigheid wat klein begin in die stad wat ad infinitum kan uitbrei. Die grense is opgehef – oop en ruim die toekoms in.
“Die aardse kleure verwys na die aardsheid van die Vrystaat, verbondenheid tot konstruktiewe verhoudinge, diversiteit en inklusiwiteit. Die vordering van oranje na ‘n rooier kleur, wys op ontwikkeling – soos ‘n sonsopkoms – konstruktief en hoopvol. Rooi beklemtoon ook gesonde uitdagings en passie. Hierdie ontvanklikheid en kreatiwiteit word gesteun deur die naam, Bloemfontein Business Chamber, in grys hoofletters, wat dui op ‘n gevestigde, etiese en analitiese benadering.
Die kamer se nuwe slagspreuk is ‘business for the good of the city’. Dit verwys na die beskerming en ontwikkeling van ekonomiese aktiwiteite tot voordeel van die stad se belangegroepe. Verder verwys dit ook na georganiseerde besigheid se missie om ‘n positiewe en volhoubare impak op die stad te maak, wat verder kan strek as ekonomiese aktiwiteite. Die word ‘good’ in die slagspreuk verwys na groei en ontwikkeling maar ook na volhoubaarheid en etiek, terwyl ‘city’ alle belangegroepe met ‘n verbondenheid tot die stad insluit.
Jacobs sê hulle vertrou dat die nuwe naam en visuele identiteit ‘n beginpunt is om besigheid te organiseer om ‘n positiewe impak te maak.
Enige persoon wat meer oor die bbc wil weet of daarby wil betrokke raak, is welkom om Jacobs by 082-909-8524 of Wium Adendorff by 082-820-9191 te kontak. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za