Agt sterf op SA-paaie

0
341
Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het opnuut ‘n ernstige versoek aan motoriste gerig om padreëls na te kom en veilig te bestuur.

Dit kom nadat agt mense die naweek op die land se paaie dood is. Twee mans is Saterdagmiddag op die R57 in Sasolburg in die Vrystaat dood toe die bakkie waarin hulle gery het, in ‘n brug vasgery het. Die mans is uit die motor geslinger en is op die toneel dood verklaar.

Die RTMC se Simon Zwane sê drie mense is op die R617 naby die Underberg in KwaZulu-Natal dood toe hul motor Saterdag in ‘n botsing reg van voor met ‘n bus betrokke was. Hy sê 60 mense het beserings opgedoen. Daarmee saam is drie mense dood en sewe ander beseer toe ‘n bestuurder van ‘n bakkie in die baan vir aankomende verkeer gery het. Dié bakkie het met ‘n motor reg van voor gebots. Twee ander motors kon nie die ongeluk vermy nie.

Té veel onskuldige mense sterf op Suid-Afrika se paaie weens nalatige bestuurders. Hy sê nalatige bestuurders gaan vasgevat word en daar sal streng teen hulle opgetree word.

Intussen is ‘n 19-jarige man in ‘n kritieke toestand nadat hy vermoedelik beheer oor sy motor sowat 90km vanaf Kimberley op die Koffiefonteinpad verloor het. Zwane sê motorbotsings neem toe op paaie omdat mense onverskillig bestuur en nie die padreëls nakom nie. Hy sê spoed is ook ‘n probleem en mense vermy paaie waar owerhede diens doen en volg ander roetes waar hulle onverskillig kan bestuur. – Christal-Lize Muller