AfriForum-buurtwaglede sit verdagte agterna

0
615
Sak wat aan die polisie oorhandig is. Foto: Uitgeryk/AfriForum

Die AfriForum-buurtwag in Wilgehof het op 6 Augustus omstreeks 23:00 tydens patrollie ’n verdagte probeer vastrek wat ’n fiets in dié Bloemfonteinse woonbuurt gesteel het.

Volgens Eddie Maree, voorsitter van die veiligheidskomitee vir die AfriForum-tak in Wilgehof, het patrolleerders die verdagte agternagesit en probeer vastrek waartydens hy ’n gaspistool op Maree gerig het.

“Die verdagte het twee skote afgevuur, wat my in die arm en rug getref het, en toe weggekom. Die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was vinnig op die toneel en ons het saam die soektog voortgesit, maar die verdagte het ongelukkig weggekom,” voeg Maree by.

“ ’n Sak vol toerusting, wat moontlik gebruik kan word om by ’n huis in te breek, is tussen die struike gevind waar die verdagte geskuil het en aan die polisie oorhandig. Die gesteelde fiets is ook aan sy regmatige eienaar oorhandig,” sê Esmerelda Botha, voorsitter van die AfriForum-tak in Wilgehof.

“Dit is net weer eens ’n bewys van die waardevolle werk wat AfriForum-buurtwagte elke dag en nag doen. Ons sal aanhou veg teen misdaad en gemeenskappe oplei om binne die raamwerk van die wet hul strate by misdadigers terug te neem,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum tak betrokke deur “Veilig” na 45353 te SMS (R1) óf stuur ’n e-pos aan veiligheid@afriforum.co.za.

Verklaring uitgeryk