AfriForum-beswaar teen Centlec se elektrisiteitstariefverhoging suksesvol

0
217

AfriForum se beswaar teen ‘n elektrisiteitstariefverhoging van 10.49 persent deur Centlec by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) was suksesvol.

AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, Pieter Myburg, sê die burgerregtegroep het vandeesweek gehoor dat Nersa slegs ‘n verhoging van 4.95 persent toegestaan het.
Centlec het intussen die aanpassing gemaak, soos besluit deur Nersa.
Dit volg nadat Centlec vroeër aangekondig het dat hulle by Nersa aansoek gedoen het vir die inwerkingstelling van ‘n elektrisiteitstariefverhoging van 10.49 persent.
Myburg sê die AfriForum-takke in Bloemfontein was nie tevrede met dié verhoging nie, wat meer as die 7.64 persent was wat deur Nersa vasgestel is.
Hy sê AfriForum het Nersa genader om beswaar aan te teken teen die groot tariefverhoging en is ‘n kans gegun om teen 15 Junie vanjaar skriftelik beswaar aan te teken.
Myburg sê die burgerregte-organisasie is baie bly oor die besluit van Nersa wat tot voordeel van hul lede in die Centlec-bedieningsgebied strek. – andreg@centralmediagroup.co.za

André Grobler – Bloemfontein Courant