‘Aardetyd is genadetyd’

0
5827
Christel Basson het onlangs haar derde 4Peaks-wedloop vir Jana du Plessis gehardloop.
Bloemfonteiners het Maandag in die Bloemfontein-Baptistekerk van Jana du Plessis, 
skrywer en motiveringspreker, afskeid geneem nadat sy verlede week haar stryd teen
kanker verloor het. CHRISTEL BASSON, hoofbestuurder van Mahareng Publishing, 
uitgewers van Bloemfontein Courant, bring hier hulde aan haar vriendin.

Saam met die mooiste lentereën het ‘n vlaag hartseer ook oor Bloemfontein neergedaal met die heengaan van Jana du Plessis verlede week. Jana was ‘n geliefde motiveringspreker, nie net in Bloemfontein nie, maar oor die hele Suid-Afrika heen.

Hierdie week het ons Jana se lewe gevier met ‘n besonderse diens in die Baptistekerk in Langenhovenpark. Die kerk was stampvol en die diens is ook op die internet gebeeldsend. ‘n Paar mense het staaltjies oor Jana vertel, wat ons almal tussendeur die trane laat lag het.

As ek aan Jana dink, kan ek nie anders as om na haar lewe te kyk oor die afgelope 11 en ‘n half jaar nie. Jana het groot drome as sportvrou gehad toe kanker letterlik en figuurlik haar been afgeruk het. Dit het Jana nie gestuit nie. Sy en Ian, haar man, was ‘n gedugte span gewees.

Sy het aan almal bewys dat kanker nie jou menswees kan steel nie, maar dat jyself die mag het om te besluit om voluit te leef ten spyte van enigiets, en ‘n vol lewe kan hê. Jana het ‘n voller lewe gelei in haar 37 jaar as wat baie mense in dubbel die hoeveelheid jare kan.

Jana was nie net Mev. Bloemfontein nie, sy was ook Finesse se Inspirasievrou en Kansa se Global Hero of Hope. Benewens haar openbare lewe, was haar grootste passie haar familie. Ian, Zandri, Zehan en Nikki was haar trots.

Deur die week was sy mamma en het sy en Ian saam hul onderneming bedryf, en naweke het hulle sover moontlik as gesin in die motor gespring vir een van haar volgende optredes regoor Suid-Afrika.

Jana het soveel mense bemoedig – nie net mense wat liggaamlik siek was nie, maar soms moeg en moedeloos deur die lewe gegaan het. Ds. Petrie Spies het dit vir my so mooi opgesom: As jy Jana die eerste keer ontmoet het, het dit gevoel of julle mekaar al jare ken en beste vriende is. Sy was ‘n liefhebber van mense. Sy was gelukkig as sy tussen mense kon wees en ons almal kon bemoedig. Tot twee weke voor haar heengaan het sy nog vroue in Reitz toegespreek.

Ek sal Jana altyd onthou as die vrou wat geglimlag het tot op haar laaste, wat my en ander bemoedig het in haar donkerste uur. Ek ag myself gelukkig om haar my vriendin te kon noem. Haar nalatenskap is gegraveer op die tafels van my hart en ek glo vir soveel ander ook, want geen groter les kon ons by haar leer anders as dat “aardetyd genadetyd” is nie.