Martie du Plessis kry skenking van R70 000

0
430
Tydens die oorhandiging van 'n R70 000-skenking aan die Hoërskool Martie du Plessis deur die Transoranje Instituut vir Buitengewone Onderwys (Toibo) is 'n boom op die skoolterrein geplant as simbool van die jarelange verhouding tussen die skool en die instituut. Hier word dr. Pieter Heystek (regs), voorsitter van Toibo, bygestaan deur Marnus van Straaten (6A), Keeyan Eybers (6E), en Jeandre Opperman (4A). FOTO: MARICELLE BOTHA

Die Hoërskool Martie du Plessis gaan die skenking van R70 000 wat hy van die Transoranje Instituut vir Buitengewone Onderwys (Toibo) ontvang het, gebruik om vaardighede te ontwikkel as deel van sy Ad Lucem-projek.
Dr. Pieter Heystek, voorsitter, en Arina Jooste, uitvoerende hoofbeampte van Toibo, het die geld tydens ‘n luisterryke geleentheid in Martie du Plessis se saal aan die skool oorhandig.
Toibo, wat in Pretoria gesetel is, verleen ook ondersteuning aan onder meer die Transoranjeskool vir Dowes, die Prinshofskool vir Siggestremdes, die Sonitusskool vir Gehoorgestremdes en die Transvaliaskool vir Gehoorgestremdes.
Die skenking aan Martie du Plessis val saam met Toibo se 70ste verjaardag op 1 April. ‘n Boom is ook op die skoolterrein geplant as simbool van die jarelange verhouding tussen Martie du Plessis en Toibo.
Dr. Heystek het tydens die oorhandigingseremonie gesê vir Toibo is die R70 000 niks nie, gegewe die waardering en liefde wat die instituut vir Martie du Plesssis koester.
Francois van Heerden, skoolhoof, het sy dankbaarheid teenoor Toibo uitgespreek en gesê dit kan nie toeval wees dat die instituut juis 23 Maart vir die skenking gekies het om die skenking te oorhandig nie, aangesien die skool op dieselfde dag in 1962 gestig is. – Pieter Delport 
pieterd@mahareng.co.za