Wayde blitsig in 100m en 200m, maar…!

0
1821
Wayde van Niekerk (tweede van links, 10,1) spring hier weg in die 100m op verlede week se ASA Speed Series-atletiekbyeenkoms wat in Bloemfontein beslis is. Hy het tweede geëindig nadat Tlotliso Leotlela (links, Tuks, 10,0) hom geklop het en handtye geneem is nadat die elektroniese tydapparaat halt geroep het tydens dié wedloop. Van Niekerk het Saterdag in Bloemfontein op die VS-kampioenskap die 100m en 200m gewen, maar slegs vierde geëindig in sy wêreldrekordnommer, die 400m. Dít, na atlete versoek het om die bestes in een wedloop te laat deelneem. FOTO: ACTION PHOTOS

Die wêreld se koning in die 400m, Wayde van Niekerk (Kovsies), se deelname aan die Atletiek Vrystaat (AVS)-kampioenskap vir senior atlete wat Vrydag en Saterdag op die Mangaung-stadion in Bloemfontein beslis is, het gepaard gegaan met die spreekwoordelike wrang smaak in die mond van verskeie atletiekgeesdriftiges, afrigters en atlete.
Van Niekerk het ingeskryf vir die 100m, 200m en 400m. En, hy het soos hy en sy wêreldbekende afrigter, Ans Botha, beplan het, aan al drie dié nommers deelgeneem.
In die100m- en 200m-nommers is daar uitdunne en eindrondes op die program aangebring, maar die 400m is slegs in ‘n eindronde beslis. Dit was net hier waar dinge ontsier is.
In ‘n wedloop waar daar slegs ‘n eindronde plaasvind en daar meer atlete deelneem as wat die baan volgens reëls gelyktydig kan hanteer, word meer as een eindronde beslis. En, die wenner word volgens die beste tye van die onderskeidelike eindrondes bepaal.
Courant het betroubaar verneem dat Van Niekerk en van die voorste 400m-atlete in die provinsie besluit het om voor die wedloop die beamptes wat betrokke was by die wegspring, te versoek om die beste atlete in een wedloop te plaas. Dit was ‘n logiese en redelike versoek.
VERVOLG VANAF BLADSY 1
Toeskouers kan dan na meer mededingende wedlope kyk en atlete kry sodoende die geleentheid om beter tye en plekke te jaag as in die geval waar die beste atlete in verskillende wedlope sonder noemenswaardige mededinging in die blokke moet sak.
Soos verneem, het die beampte die versoek deurgegee aan die beampte wat verantwoordelik is vir die plasing (baanloting) van atlete in die onderskeie wedlope. ‘n “Nee”-antwoord van laasgenoemde is klaarblyklik aan die beampte deurgegee wat die atlete se versoek oorgedra het en die terugvoer was glo omdat dit “te veel werk” is.
Die gevolg van hierdie weiering was dat Van Niekerk en die beste atlete op hul eie moes sien en klaarkom in verskillende wedlope. En, dit was duidelik dat Van Niekerk in sy wedloop slegs “gedraf” het om te wen en het hy in ‘n baie beskeie 48,47 (gemeet aan sy wêreldrekord, 43,03) oor die eindstreep gedraf.
Dit is werklik ‘n onding in atletiek dat waar atlete in verskillende eindrondes geloot word, die bestes volgens die rekenaar in verskillende eindrondes geplaas word. Dit is tog inderdaad ‘n eindronde-wedloop en nié uitdunne en later ‘n eindronde nie. Vir laasgenoemde werk die program puik.
Wat meer onrusbarend is, is die feit dat dit algemene kennis onder atletiekliefhebbers is wie Saterdag as die beste atlete vir die genoemde 400m ingeskryf is en beamptes wat dié loting klaarblyklik nie wou verander het nie, waarskynlik nie hul atletiek ken nie. Van Niekerk is tog die beste in die wêreld en Rynardt van Rensburg (Kovsies) was ‘n semi-finalis op die Rio Olimpiese Spele (800m). Dan was daar ook nog Hendrik Maartens (Kovsies) wat al vir ‘n Olimpiese Spele gekwalifiseer het (200m, 20,49) en Petr Havenga (Kovsies), ‘n voormalige SA skolekampioen in die 400m.
Óf, is dit ‘n geval van passie wat ontbreek vir dié sport?
Daar moet egter bygevoeg word dat klubs en skole ook nie aldag bydra om dinge te vergemaklik vir beamptes wat die lotingslyste opstel nie. Daar word op die inskryfdokument voorsiening gemaak vir die beste tye van die atlete en verskeie klubs en skole is skuldig daaraan dat hulle nié hierdie afdeling invul nie. Heelparty inskrywings van top-atlete word eenvoudig uitgelaat en die rekenaar registreer sodoende die atleet sonder sy tyd.
Van Niekerk (48,47) het toe uiteindelik (volgens tyd) algeheel vierde geëindig in die nommer waarin hy die beste in die wêreld is. Maartens (47,18) is as kampioen gekroon terwyl Van Rensburg (47,91) en Havenga (48,14) die silwer- en bronsmedalje opgeraap het.
Van Niekerk het egter nie probleme in die 100m en 200m, waar hy teen die voorste manne weggespring het in die eindronde ondervind nie. Hy het blitstye van onderskeidelik 10,12 en 20,45 losgenael.
Courant het met die voorsitter van AVS se baan- en veldkommissie, Kobus Steyn, gesels oor die weiering van bogenoemde versoek: “Ek was nie bewus van die versoek nie, maar ek moet dadelik byvoeg dat die beampte in beheer van die lotingslyste Saterdag om verskeie redes onder geweldige druk was.” – Rufus Botha 
info@bloemfonteincourant.co.za