Donna le Roux skitter in tweekamp

0
304
Die voormalige Springbokstut, Ollie le Roux (54 toetse), staan hier saam met sy dogter, Donna, wat Saterdag die beste vertoning op die tussenprovinsiale tweekampbyeenkoms in Kimberley opgedis het. FOTO: RUFUS BOTHA

Die voorslag-tweekampatleet van die Suid-Vrystaat (SVS), Donna le Roux, het Saterdag op ‘n tussenprovinsiale byeenkoms in Kimberley ‘n vertoning opgedis wat die wenkbroue laat lig het.

Le Roux, dogter van een van Suid-Afrika se voorste stutte van alle tye, Ollie le Roux, het in die afdeling vir meisies onder 9 ‘n reuse-puntetotaal van 2523 opgestapel. Én, dit is by verre die meeste punte van die byeenkoms. Pa Ollie het in nie minder nie as 54 rugbytoetse vir die Springbokke tussen 1994 en 2002 skitterende diens gelewer.

Daar is weliswaar, volgens Archie Markgraaff, president van SVS-tweekamp, ‘n nuwe puntestelsel deur Tweekamp Suid-Afrika tydens die byeenkoms op die proef gestel, maar dit doen nie afbreuk aan Le Roux se puik vertoning nie.

Sy het aanvanklik die 800m-hardloopskof soos ‘n wafferse spesialis-middelafstandatleet in 2:49,21 vir 1269 punte kafgedraf en daarná die water oopgeklief om die 50m-swemnommer in ‘n ewe goeie 37,12 (1254 punte) voltooi.

Le Roux het die tweede en derde atlete, Jaydene Barnard (SVS, 2221 punte) en Jané Smit (Griekwas, 2191 punte), maklik die loef afgesteek.

Die voormalige senior Springbok-tweekampatleet, Nicolas Theron, is steeds vuurwarm. Theron het in die afdeling vir mans 40 tot 49 jaar ‘n puik vertoning gelewer deur dié afdeling met 2435 punte sy eie te maak. Hy het die 1000m-hardloopskof in ‘n kookwater 2:56,56 voltooi en dit opgevolg met ‘n self-nie-te-versmaai-nie tyd van 1:04,21 in die swemskof (100m).

Theron het Rod Westgate (Grens, 2319 punte) gerieflik geklop terwyl Raube Malan (Noordwes, 2007 punte) met die derde plek tevrede moes wees.

James en Caanaan Brice (albei SVS) het dit ‘n familie-affêre gemaak toe albei dié knapies oorwinning gesmaak het en dit boonop altwee met meer as 2300 punte.

James het in die afdeling vir seuns onder 9 ‘n goeie 2338 punte behaal nadat hy die 800m in 2:59,47 voltooi het. Hy het daarna die 50m-swemskof in 40,18 afgelê. Hy het sy twee spanmaats, Christopher Cilliers (SVS, 2318 punte) en Jannes Krause (SVS, 2265 punte), in die onderskeidelike silwer- en bronsmedaljeplekke ingedwing.

Caanaan het op sy beurt die afdeling vir seuns o.11 met 2304 punte oorheers. Hy het die 800m-hardloopskof in 2:46,28 voltooi en dit met 34,42 vir die 50m-hardloopskof opgevolg. Connor Reinders (SVS, 2240 punte) was tweede, gevolg deur Griekwas se Darius du Plessis (2168 punte).

Nog twee Suid-Vrystaters, Amber Olsen en Gean Viljoen, het oorwinnings gesmaak én meer as 2300 punte ingesamel.

Olsen moes in die afdeling vir meisies onder 11 goed kophou om haar mede-Suid-Vrystater, Miche Johns, af te weer. Olsen het 2350 punte versamel, terwyl Johns (2341 punte) slegs nege punte agter haar was.

Viljoen (seuns o.15) was egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Hy het loshande gewen (2307 punte) en het die silwermedaljewenner, Henrico Badenhorst (Griekwas, 2187-punte), na sy asem laat snak. – RUFUS BOTHA