Kolskoot

0
663

Goeiedag

“Pure goud! Wayde van Niekerk, jou driedubbele doring! Suid-Afrika, die Vrystaat, Bloemfontein en Kovsies se held! Die beste ter wêreld!” klink dit uit alle windrigtings op nog voordat ons indaba kon begin.

“Ek het al baie sporthoogtepunte beleef, maar Maandag het Wayde van Niekerk se sege die voriges oortref. Die wyse waarop hy in die eindronde van die 400-wedloop vir mans op die Olimpiese Spele in Rio sy teenstanders, Kirani James van Granada en LaShawn Merritt van Amerika, verpletter het om in ’n nuwe wêreldrekordtyd van 43.03 sekondes goud te verower, was verbysterend,” kry Sporie Bezuidenhout die eerste woorde in.

“Wayde is nou die Wêreld- en Olimpiese kampioen en het die wêreldrekord van Michael Johnson van Amerika (43.18), wat reeds sedert 1999 staan, aan skerwe gehardloop. Hy was in die buitebaan en kon dus nie ’n oog oor sy teenstanders hou nie, maar dit was nie nodig nie, want hy het van die wegspring tot die einde voor gehardloop en deurgaans sy voorsprong vergroot. Onthou, Kirani (44.76) en Merritt (44.85) het blitsige tye opgestel,” borduur Bontie Bonthuys voort.

“Sy uitmuntende vertoning word in perspektief geplaas deur die wêreldwye lof wat hy gekry het. Die beste naelloper van alle tye, Usain Bolt, het, nadat hy self die 100-naellooptitel in 9.81 verower het, eers vir Van Niekerk op die pawiljoen gaan gelukwens voordat hy enige onderhoude toegestaan het. Dit is lof en sportmangees. Daarby het Johnson, die vorige wêreldrekordhouer, gesê dat Van Niekerk “spesiaal” is en dat hy glo die Suid-Afrikaner die 400 in nóg vinniger as 43 sekondes gaan afnael,” praat Oom Sjert saam.

“Wayde was voortreflik, maar ek is ook baie bly oor die silwermedaljes wat ons swemmers, roeiers en veral Luvo Manyonga in die verspring vir mans verower het. Onthou, Manyonga het teen Tik-verslawing geveg en oorwin. En dit was so hittete of hy het goud verower. Die Amerikaner, Jeff Henderson, het hom eers met sy laaste sprong van 8.38 met ’n enkele sentimeter geklop,” brei Botterbul Bester uit.

“Goud is werklik goud op die Spele. Met Van Niekerk se verowering van goud het Suid-Afrika van die 44ste plek op die medaljelys opgeskiet na die 24ste plek. Nou is my hoop op Caster Semenya in die 800-wedloop vir vroue. As sy goud verower, spog ons met minstens twee goues, vyf silwer en daardie een brons van die Blitsbokke in die sewesrugby,” laat Stywelip Carrington van hom hoor.

Hy moes nie rugby genoem het nie. Skielik wil almal rugby gesels.

“Die tyd vir praat, bespiegeling oor spelpatrone en spankeuse vir die Springbokke is verby. Saterdag om 17:10 sal die Bokke in die Mbombela-stadion op die veld die praatwerk teen die Poemas van Argentinië moet doen. Onthou, die Poemas het ons verlede jaar die eerste keer in ’n toets geklop en sal met vertroue opruk. Daarná wag die Wallabies en All Blacks op die Bokke. Daar moet nou vorentoe beweeg word,” lug Sporie sy mening.
Eienaardig stem almal saam en ons sluit af.

Groetnis